VAN MOTBOLLE TOT WYN EN APPELS

Image
Image

DINSDAG, 1 Julie 2025

Dag 490 van ons Kamp Kroniekereis

Plek: Onrus karavaanpark, Hermanus

VAN MOTBOLLE TOT WYN EN APPELS

Die Kaapse dokter, wat vir 'n volle vyf dae gewoed het, het die aarde skoon gevee. Vandag skyn die son, maar die lug is byterig en die koue klim op teen vlees en bloed. Laatmiddag stap ek na Davies Pool, voor teen die see, hier by Onrus. Ek asem die 'crispy' vars lug stadig en diep in. Mense kom en gaan. Ou mense stap om die gees en liggaam, gesond en jonk te hou. Jong mense kom stap met hul hondemaats in plaas van lewensmaats. Deesdae verkies die jongmense mos om eerder 'n verhouding met hul dieremaats te hê. Dis makliker en ongekompliseerd.

'n Jong vrou en ouer man, wat 'n gebrek aan sonlig toon, kom in skrapse klere aangestap. 'n Skerp motbolletjie reuk agtervolg hulle en ek val amper flou, vanwaar ek die wesens sit en beskou. Behalwe vir my skerp reuksintuig, rek my oë groot toe die twee motbolle, "Davie" se koue seewater poel, manhaftig betree. Ander seeliefhebbers wat ook van koue water hou, volg die handreëling wat tot in die poel loop. Dis bibberweer, en die koue wolke gooi skadu's oor dié malles. Na ongeveer dertig minute stap die twee weer ewe kordaat uit die see, met geen teken van tande wat opmekaar klap en ek is angstig om te weet of hul die ritueel daagliks volg. Maar toe die motbol walm so saam met hul verby sweef, vergeet ek skoon wat ek wou vra. Nie eers die sout seewater kon hul ontgif nie! Ek is doodseker hulle eet motbolle.🤭Maar motbolle of de not - ek salueer, terwyl hul wegstap.🫡 Hulle is braaf om die veertien tot sestien grade koue water van die suidelike Atlantiese Oseaan, aan te durf.

Kampvriende wat ons in ons eerste jaar van reis ontmoet het, nooi ons vir 'n kuier, of moet ek sê 'n wyndrinksessie by Benguela Cove Lagoon Wynlandgoed. Ons deel kampreise, gesels en lag totdat die hongerpyne knaag en ons groet. Martin en Andriëtte bring vir ons 'n sak Pink Lady appels uit die kontrei. Ek en Christo gaan oggend, middag en aand appels eet. Hulle sê mos - an apple a day keeps the "Cape Doctor" away.☺️

As gevolg van die ongure weersomstandighede kon ons nog nie die skade wat die Suidooster aangerig het, herstel nie. Ons kontak die Howling Moon vervaardiger in Kaapstad. Hul besef ons penarie en tjoef tjaf kom vervang twee gawe manne die beskadigde dakstawe, kosteloos by ons kampplek. Dis nou diens. Vyf en twintig jaar jaar terug, het ons begin kamp en ons eerste viermantent was 'n ordentlike Howling Moon. Ons is in ons noppies met die 360 grade awning wat in 'n japtrap in- en uitvou, op- en afslaan. Baie dankie Howling Moon. Julle bly tops!

Die pale en toue is nou goed geanker en sover staan dié awning sterk teen die wind wat alweer waai. Ons het baie gou besef dat die Suidooster nie ons maatjie is en dinge, vinnig moeilik kan raak.

Met die onplesierigheid agter ons en die pad voor ons, wag die Overberge om ontdek te word.

Ons vat een van die dae die pad!

🎶Show you my World - Upstate

Oor die berg groete @everyone

Anita✍️😊

Image
Head Office
Subscribe to our newsletter

This site uses cookies

We use cookies to enhance your user experience